Midstream Logo
Scrolldown

Bulletjierugbydag 2026


DIe OUTSurance Blou Bulle Bulletjiedag skryf geskiedenis

Saterdag 16 Mei 2026 het die OUTsurance Blou Bulle Bulletjiedag weer eens bewys waarom hierdie dag as een van die grootste en mees besondere jong rugbygeleenthede in Suid-Afrika beskou word. Die dag, aangebied deur die Blou Bulle Laerskole Rugbyvereniging in samewerking met Midstream Ridge Laerskool, het vanjaar nuwe hoogtes bereik met ’n rekordgetal van 4 572 jong rugbyspelers wat die velde ingevaar het.

Altesaam 446 spanne van 44 skole het deelgeneem, terwyl 448 wedstryde deur die loop van die dag gespeel is. Die fees het nie net gegroei in getalle nie, maar ook in impak, geesdrif en die belangrike rol wat dit speel in die ontwikkeling van jong rugbyspelers.

Vanjaar se Bulletjiedag was ekstra spesiaal aangesien dit die eerste groot fees was waar die nuwe SARU-goedgekeurde T1-rugbyformaat ten volle toegepas is ’n stelsel wat nou landswyd geïmplementeer word. Die Blou Bulle het reeds oor baie jare ’n platform geskep wat jong spelers op ’n veilige, professionele en genotvolle manier aan rugby blootstel, en hierdie jaar se sukses het weer eens gewys hoe sterk daardie grondslag is.

Volgens die nuwe voorsitter van Bulletjie-rugby, Esjé Esterhuyse, is die groei van jong rugby iets wat besonders na aan sy hart lê.

“Die implementering van T1-rugby bevestig net weer die ongelooflike werk wat reeds in die Blou Bulle-streek gedoen word. Ons het die passie, die strukture en die geleentheid om duisende jong spelers aan rugby bloot te stel op ’n manier wat veilig, professioneel en ongelooflik lekker is. Om deel te wees van ’n dag waar soveel kinders die spel met glimlagte en opgewondenheid geniet, maak my ongelooflik trots.”

Die dag het nie net oor rugby gegaan nie, maar oor families, gemeenskappe en die skep van herinneringe. Ouers, ondersteuners en jong spelers het die dag saam geniet in ’n atmosfeer van opgewondenheid, sportmangees en trots.

Met OUTsurance as hoofborg en die voortdurende ondersteuning van die Blou Bulle Laerskole Rugbyvereniging, groei die Bulletjiedag jaarliks van krag tot krag. Hierdie jaar se fees staan nou amptelik as die grootste Bulletjiedag nóg wat by ’n skool deur die Blou Bulle Laerskole Rugbyvereniging aangebied is ’n bewys van die ongelooflike groei van jong rugby in Blou Bul land.

Vir die organiseerders gaan dit egter oor veel meer as net getalle. Dit gaan oor die bou van geleenthede vir elke kind, die ontwikkeling van karakter en die liefde vir die spel wat reeds op ’n jong ouderdom begin wortelskiet. Vandag se bulletjies is immers môre se rugbyhelde.

×